Diersimbole

Is daar ‘n muis in jou huis?

“Wat gaan hier aan? En wat gaan hier aan … !“ bulder ek en voel hoe my vuis die kombuisvloer tref. Die vloer is koud onder my kruipende knieë maar weet ek verseker dat hier iets skelms in die donker aangaan!

Ek was nie tuis nie maar het dadelik gewaar nadat ek die kombuisdeur oopgestoot het dat iets binne nie pluis is nie. Saggies het ek afgebuk en kruipend ingekom om so te kon luister na die gewoel en werskaf oor die kille vloer.

In die donker begin my oë fokus en ek sien die afbeelding van koue gladde ore wat spits en ‘n donker harige bonsende muislyf.

En sowaar – dié staan nogals op sy agterpote terwyl voorpote kreun onder die gewig van my gesteelde goed!

Rooi ronde ogies gluur terug in myne.

Ek wuifel. Wat gaan hy doen. Noudat hy uitgevang is. Terugaanval? Wat gaan ek doen?

Die volgende oomblik voel ek Dirk se plukgreep aan my skouer. Ek skrik wakker. Hy lag: “Wat mompel jy? Waaroor het jy gedroom?”

Ek glimlag waserig terug. “Ek het gedroom … oor ‘n muis in my huis wat my besteel. Toe gil ek op hom!” Dirk skater terwyl ek die droom as niksseggend afskud.

Maar was dit?

Oppad werk toe herroep ek die droom. Dit was so duidelik. Ek frons. Daar was nie tyd om die droom te bedink of neer te skryf nie. Ek het maar gemeen dat dit dalk die begin van ‘n nagmerrie was.

Die simbole in hierdie droom is egter baie insiggewend. Wil jy meer oor jou droomtaal leer? Bedink gerus hierdie oefening saam met my:

Letterlike simbool ontleding:

  1. DIE MUIS: Iets of iemand wat jou besteel. Jou finansies of voorsiening opvreet. Die muis het ‘n skelm agteraf persoonlikheid wat wys op iemand wat iets van jou wil vernietig.
  2. DIE KOMBUIS: was in ‘n huis vanuit my kinderjare. Dit wys na iets vanuit my verlede wat my hede wil beroof.
  3. DONKER NAG: wys op dinge vanuit die duister met ‘n negatiewe uitwerking.

Hoe word die droom spiritueel verklaar?

  1. DIE HUIS: verwys na jou eie geestelike woning, nl jyself. Die kombuis is ‘n plek van voorbereiding, soos in jou bediening.
  2. KOMBUISDEUR: is gewoonlik agter, iets wat agter inkom is negatief en oortree in jou lewe.
  3. DIE MUIS is ‘n vernietigende mag wat jou wil besteel en kan selfs demonies van aard wees. Iets wat aan die siel knaag. Of wys dit op ‘n eie negatiewe karaktertrek, gesindheid of slegte optrede.

Hoe kan ek die droom op myself van toepassing bring vir nou. Wat gaan tans in my lewe aan?

Drome mag spreek tot die gebeure wat huidiglik in jou lewe aangaan.

Persoonlik het hierdie droom vir my iets beteken. My knieë mag spreek van my gebedslewe. Iets vanuit die verlede wat nie uitgesorteer is nie kortwiek of steel my gebedstyd of effektiwiteit.

Weet ek wat dis is? Ja, natuurlik. Jy sal weet dat jy weet.

Wanneer jy dus weer droom oor ‘n muis (of enige ander dier) let op die persoonlikheid en maniere van die dier.

Dis dit wat tot jou sal spreek.

Maak jou huis skoon. Miskien steel iemand iets van jou af of dalk besteel jy iemand anders?

Leave a comment