Algemene vrae omtrent Drome en Gesigte

Drome het die vermoë om my dinge te leer, teen gevaar te waarsku of selfs persoonlik te laat groei. Dit is God se “Geestes-skool” wat ek betree.

  1. HOE BEGIN MENS DROOM?  Dis wonderlik om te weet dat alle mense elke nag droom. Werklik? JA – die bybel vermaan ons hieroor: ” Want God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens LET daar nie op nie. In die droom, in ‘n naggesig … ” Job 33:14,15

Jammer as jy so vroeg al raas kry – maar God WOU al met jou gespreek het. Jy het egter nie daarop AG gegee nie. Hy staan gereed om vir jou Drome te gee. Dit is een van die maniere waarop Hy graag met jou wil spreek.

2. WAT MOET EK NOU DOEN?  Besluit dat jy van vanaand af meer INGESTEL sal wees op jou drome. Kry ‘n boekie en pen (Droomjoernaal) en plaas dit langs jou bed waar jy moreoggend dit maklik kan bykom. VERWAG dat jy sal begin droom.

Blog Drome Droomjoernaal

Die bybel leer jou HOE die droom of gesig na jou sal kom. Onthou God WIL met jou op hierdie manier spreek: “In die droom, in ‘n naggesig, as DIEPE slaap op die mense val, tydens SLUIMERINGE op die bed,” Job 33:15.

Ekself het ondervind dat drome tydens diep slaap kom en gesigte tussen insluimeringe deur. Hierna mag jy wakkerskrik en wonder wat het jy gesien? Dis goed – bedink die droom en brand dit in die geheue sodat jy die oggend dit makliker sal onthou.

Begin dan IN-OEFEN om jou drome vanuit jou onderbewussyn na die oppervlak op te roep.  Doen dit deur jouself die volgende gereeld te vra sodra jy wakkerword: “Wat het ek gedroom laasnag?”  Miskien onthou jy net een beeld – dis goed genoeg so – sodra jy jou droomtemplet begin voltooi, behoort jy meer te onthou.

Ondervinding leer my dat gesigte (snags) of visioene (bedags) of drome (tydens diepslaap) die dinge in jou lewe kan saamvat, bevestig of oopbreek.

3.  BID EN VRA. Die Here sê ons kry nie dinge nie omrede ons nie VRA nie. Kniel vanaand voor jou bid en vra die Here om spesifiek met jou deur drome te praat. Vra dan omverskoning dat jy nie voorheen AG gegee het op jou drome nie.

Hier is ‘n gebedsvoorbeeld:

“Hemelse Vader, dankie dat U met die mens spreek deur drome en gesigte. Ek vra dat U my asseblief hierin sal leer en bystaan. In die Naam van Jesus Christus alleen. Amen”

4. HOE KAN EK MY DROME AANHELP?  Bou jou GELOOF deur bybelse voorbeeld stukkies daaroor te lees en oordink. Dit sal jou stig asook die MANIER oopmaak hoe jou drome behoort te verloop. Blog Drome visioene prente

Ek vertrou ook dat ander lesers wat alreeds droom vir ons hier hul spesiale ondervindinge en tips sal deel sodat ons almal meer hieroor kan leer.

Dan sal jy sien dat gewone mense soos ek en jy ook maklik kan droom en so van ‘n Hoër goddelike hand inligting mag ontvang. Dis verkeerde om te glo dat drome net aan weird of snaakse mense behoort.

Tip: Moenie vroeg in die oggend opspring om jou dagtaak te begin nie, leer dit aan om eers jou drome terug te roep, voordat jy jou oë oopmaak. Hierdie paar sekondes is die ideale of dalk enigste tyd wat jou droom vanuit jou onderbewuste na die bewuste sal opdartel.

– Drome kan soos mis voor die son verdwyn –

Selfs al besef jy – maar ek het werklik niks gedroom nie – moenie moedeloos raak nie, die verrassing sal binnekort volg!

5. WATTER DROME MOET EK NEERSKRYF OF LOS?  Skryf alles dadelik neer! Selfs al is dit ‘n warboel of brokkies. Onthou jy het pas ingeskryf in ‘n skool met ‘n nuwe taal.

Ekself het weggespring met drome wat gevoel het of dit die hele nag kom. Alles het so deurmekaar gevoel. Party oggende het ek selfs moedeloos geword en moeg geword van al die drome neerskryf. Natuurlik was ek ontevrede en het die Here gevra wat is verkeerd.

Blog Drome skryf witMaande later sou die antwoord kom: die Here was besig om my eie unieke “droomtaal” vir my aan te leer. Woord-vir-woord, simbool-vir-simbool. Klou dus vas aan jou joernaal al voel dit of die drome neerreën of selfs dat jy in ‘n droomwoestein seisoen is. Moenie moedeloos word nie maar skryf steeds getrou alles neer.

Ons is almal uniek anders asook spesiaal. Vir jou mag dit dalk nie dieselfde wees soos ek dit aangeleer het nie. Stel jouself egter oop – al begin jy dan solank lees deur die lys van simbole hier. So sal geloof kom en jy die taal begin baasraak.

6.  WAAROOR GAAN EK DROOM?  Oor allerhande dinge, artikels, simbole, kleure, mense wat jy ken of nie ken nie, die instrumente waarmee jy bedags werk, ens. ens! God se taal is die taal van simbole. Die bybel alleen bestaan uit 49% simboliek asook gelykenisse in verhaalvorm.

7. WAAROM JUIS SIMBOLE? Want simbole dra onbeperkte verklaring en uitleg. Betekenis mag ook verskil van mens tot mens, land tot land. So mag ‘n olifant vir die stadsjapie ‘n heel ander uitleg dra (soos vrees) terwyl die wildbewaarder wat lief is vir hierdie dier, net wil tem en koester.

Dit is harde werk maar jou keuse. Sommige mense droom duidelik en praktiese drome maar vir my was simbole aan die begin volop.

Byt vas – sodat ek en jy nie net saam ‘n DROMER word maar ook ‘n SIENER. Dis alles die moeite werd.

(Wil jy meer weet? Al hierdie stellinge en vrae word later in diepte behandel.)

Wat het ons hier geleer?

  • Drome en gesigte moet dadelik neergeskryf word.
  • “n Simboollys mag help maar moet ek my eie droomtaal baasraak.
  •  Of ek begin droom of nie – dis nie belangrik vir nou – doen steeds al die oefeninge getrou sodat God kan sien jy is besig om jouself gereed te maak vir groot dinge!